Op pad na helderheid

Inleiding tot Bybelverstaan

Die Bybel, ’n kompas in ’n ingewikkelde wêreld

Inleiding tot ’n geloofwaardige lees van die Bybel

blaai af om te begin

Begin hier

Waarom leer ons om die Bybel te lees?

Hierdie boekie wil jou help om die Bybel verantwoordelik te lees.

Kom ek gebruik eers ’n voorbeeld wat ek dink jy uit jou eie leefwêreld sal ken.

Op ’n stadium wil jy graag leer om self ’n motor te bestuur. Pa of Ma se motor staan daar, en jy dink dit sal baie handig wees om nie net van hulle afhanklik te wees nie, maar selfstandig te raak en ook die motor self te kan gebruik.

Dit beteken egter dat jy ’n hele klomp dinge moet baasraak. As jy in jou pa se motor klim en dit is nie ’n outomatiese motor nie, moet jy leer hoe die koppelaar werk. As dit wel ’n outomatiese motor is, moet jy weet hoe die rathefboom werk waarmee jy die motor vorentoe of agtertoe laat beweeg. Jy moet leer hoe die flikkerligte werk en hoe om die spieëls te gebruik.

Daar is dus ’n hele klomp dinge wat jy moet baasraak.

Jy gaan nie sommer op ’n dag in die motor klim en skielik in beheer wees en op ’n verantwoordelike manier kan bestuur nie.

Wat ons dus in hierdie reeks gesprekke gaan doen, is om by ’n punt te kom waar jy die Bybel op ’n verantwoordelike manier kan gebruik.

Baie mense dink dit is bloot ’n geval van: Maak die Bybel oop, lees dit, en dan weet jy wat die Here sê.

Dit is egter regtig onverantwoordelik. Dit is soos om sonder ’n lisensie en sonder enige opleiding in ’n motor te klim en dan maar vir die beste te hoop.

Die beeld

Die Bybel: kompas, nie GPS nie

Daarom sal jy sien dat ons die beeld van ’n kompas as metafoor vir hierdie reeks gekies het.

Laat ek begin met die onderskeid tussen ’n kompas en ’n GPS.

Om ’n kompas te gebruik, moet jy iets weet van hoe dit werk. Jy moet weet wat die verskil tussen magnetiese noord en ware noord is. Jy moet weet hoe om die rigting op ’n kaart aan te dui sodat jy nie verdwaal nie.

Daar is dus ’n mate van kennis nodig, maar as jy dit eers bemeester het, kan ’n kompas vir jou van onskatbare waarde wees om rigting te hou.

In ons moderne wêreld gebruik ons almal GPS’e. Maar helaas, die Bybel kan nie soos ’n GPS werk nie. Die Bybel is eerder soos ’n kompas, ’n ou instrument wat eeue gelede ontstaan het.

Met ’n moderne GPS kan jy bloot na die aanwysings luister en uiteindelik by jou bestemming uitkom.

Ongelukkig werk dit nie so met die Bybel nie.

Hierdie twee prentjies is sommer maar net om te illustreer wat jy reeds weet, naamlik dat ’n kompas en ’n GPS nie op dieselfde manier werk nie. Die vertrekpunt is dat die Bybel ’n ou boek is. Ek gaan later ’n bietjie meer daaroor sê, maar dit pas dus baie beter by die beeld van ’n kompas. Dit is nie ’n moderne boek wat vandag verskyn het en wat ons soos ’n GPS kan gebruik nie.

Dit is ’n geweldig belangrike insig wat keer op keer na vore kom. So hou ’n bietjie vas daaraan en kry hierdie prentjie in jou kop:

Die Bybel is oud; dit is ’n kompas, maar dit is nie onbruikbaar omdat dit oud is nie. Dit dui vir ons die regte koers aan.

Die reis

Op pad na helderheid

Kyk ’n bietjie mooi na die prentjie wat jy hier voor jou het. Dit begin met ’n vraagteken en verander geleidelik na ’n lig aan die einde.

En wat ons in hierdie reeks wil doen, is om op pad te gaan om by daardie ligpunt uit te kom, by helderheid uit te kom.

So ons gaan ’n hele klomp gesprekke oor Bybelverstaan hê. Aanvanklik ’n klompie amper teoretiese goed, soos: as jy nou aan die kar-metafoor dink, waar druk ’n mens die sleutel in? Hoe werk die rem? Hoe werk die truspieëltjie, ensovoorts?

Maar byt vas, en mettertyd kom ons uit by ’n klomp Bybeltekste. Jy sal nie glo watter wêreld daar vir jou sal oopgaan as jy net ’n bietjie geduldig is nie.

So ons is op pad na helderheid. Ons gaan praat oor Bybelverstaan, en kom ons kyk waar bring dit ons.

“Dink net hoe stil sou dit gewees het as mense net gepraat het oor iets waarvan hulle weet.”

Karel Čapek

Vier redes

Vier redes vir verantwoordelike Bybellees

Ons het nou reeds gesien dat, as jy ’n motor wil bestuur, dit nie sommer net ’n geval van inklim en ry is nie. Daar is goeie redes waarom jy eers moet leer hoe om ’n motor te bestuur.

Ons kan natuurlik nou ’n hele lysie redes opnoem, maar kom ons mors nie te veel tyd daarmee nie. Dis byvoorbeeld ter wille van jou eie veiligheid, ter wille van ander mense se veiligheid, omdat daar verkeersreëls is wat jy moet nakom, en natuurlik ook om te keer dat jy die motor beskadig.

Jy kan seker nog ’n klomp redes byvoeg, maar die punt is eenvoudig: Daar is goeie redes waarom jy eers moet leer om motor te bestuur.

Nou wil ek presies dieselfde vraag oor die Bybel vra: Waarom slaan ons nie maar net die Bybel oop, begin lees en hoop alles werk uit nie? Waarom moet ons eers leer hoe om die Bybel te lees?

Wel, daar is goeie redes daarvoor. En dis hierdie redes wat ek nou een vir een saam met jou wil deurgaan. Ek hoop dit gaan sin maak.

Die eerste rede het te doen met ons geloofwaardigheid as Christene.

Die tweede rede is dat ons moet leer om nie die Bybel te klein te maak nie.

Daarmee bedoel ek dat ons nie net hier en daar ’n klein stukkie van die Bybel moet lees en dink dis al wat die Bybel te sê het nie.

Derdens wil ons die Bybel meer toeganklik maak.

Met ander woorde, ons wil ontdek hoe ons die Bybel met groter begrip en hopelik ook met meer gemak kan lees.

En dan die vierde rede: Ons wil ontdek hoe die Bybel ons kan help om sin te maak van die lewe.

Of miskien kan ons dit nog eenvoudiger stel: hoe die Bybel ons kan help om koers te hou in die lewe.

Dit is dus die vier redes waarna ons gaan kyk.

Wanneer ons daarmee klaar is, sal ons gesels oor hoe ons die res van ons gesprekke gaan aanpak. Maar meer daaroor later.

Rede 1 · Noord

Ons geloofwaardigheid as Christene

Wat ons moet onthou, is dat daar baie mense buite die Christendom is wat na ons kyk, luister na wat ons sê en oplet hoe ons die Bybel gebruik. Hulle vra hulleself af: “Hoe kry hierdie mense die kloutjie by die oor? Waar kom hulle aan daardie idee?”

Wat dan gebeur, is dat ons dikwels, met baie goeie bedoelings, verkeerde indrukke by mense skep.

Kyk byvoorbeeld na hierdie foto. Hier is vier atlete wat aan ’n wedloop gaan deelneem. Hulle het Matteus 19:26 op hulle bene geskryf.

Nou, ek het baie respek vir jongmense wat hulle geloof in hulle alledaagse lewe wil uitleef. Daarvoor het ek niks anders as waardering nie. Geen kritiek daarop nie.

Maar as ons gaan kyk na die teks wat hulle op hulle bene geskryf het, is daar tog ’n misverstand.

In Matteus 19 gaan dit oor die vraag hoe ’n mens gered kan word. Jesus antwoord dan: “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.”

Dit is waaroor die teks gaan. Dit het niks te doen met hardloop of met wat ek as atleet kan bereik nie. Dit gaan oor die verlossing van mense.

Om nou hierdie teks voor ’n wedloop te gebruik, berus dus op ’n misverstand. Iemand wat krities daarna kyk, kan tereg vra: “Maar wat presies bedoel jy hiermee? Wil jy nou hê God moet dit vir jou moontlik maak om hierdie wedloop te wen?”

Ek dink ons moet ’n bietjie nadink oor wat ons doen en hoe ons die Bybel gebruik.

Hierdie is maar net een voorbeeld. En dikwels spruit sulke gevalle, waarin ons geloofwaardigheid in die gedrang kom, juis uit die beste bedoelings van Christene.

Maar dit is presies waarom ons mekaar moet help om die Bybel verantwoordelik te lees en te gebruik. Ons wil tog nie hê dat ons gebruik van die Bybel mense moet laat wonder of ons self verstaan wat ons lees nie.

Rede 2 · Oos

Moenie die Bybel te klein maak nie

Die prentjie hierby sê eintlik alles: ’n groot Bybel met ’n klein Bybeltjie daarbinne.

En dit is min of meer hoe dit by die meeste van ons werk. Ons het elkeen ons gunstelingtekste wat ons graag lees. Daar is ook gedeeltes van die Bybel wat makliker lees as ander.

As jy byvoorbeeld iemand se Bybel oopmaak wat graag ’n merkpen gebruik, sal jy waarskynlik sien dat sekere gedeeltes onderstreep of gemerk is, terwyl ander gedeeltes heeltemal ongemerk bly.

Wys na ’n boek op die rak (of raak daaraan) om sy naam te sien.

En dit is nogal ’n probleem.

Aan die een kant sê ons as Protestante dat die Bybel uit 66 boeke bestaan waarin ons iets van God se stem hoor. Maar in die praktyk lees ons dikwels net ’n klein deeltjie daarvan.

Dit is natuurlik verstaanbaar. Baie gedeeltes van die Bybel is moeilik om te verstaan. Jy kom nie sommer met die eerste lees agter wat dit beteken nie.

Begin byvoorbeeld om Levitikus te lees. Daar kry jy al daardie voorskrifte oor offers en reinheid. Probeer nou sommer met die eerste lees sin daaruit maak!

Dit is dus heeltemal verstaanbaar dat ons in die praktyk met ’n Bybel binne die Bybel werk.

Maar hoewel dit verstaanbaar is, is dit tog tot ons nadeel. Want op dié manier gaan ’n groot deel van die Bybel se inhoud en betekenis vir ons verlore.

Wat ons nou met hierdie gespreksreeks wil doen, is om ons te help om ons Bybel groter te maak. Ons wil leer om meer van die Bybel te lees, te verstaan en te waardeer.

En daar is maniere om dit te doen. Dit vra dalk hier en daar ’n bietjie moeite, maar daar is beslis maniere waarop selfs die moeiliker gedeeltes van die Bybel vir ons betekenis kan kry.

Dit is presies wat ons in hierdie reeks wil probeer doen. Ons gaan juis voorbeelde gebruik uit daardie dele van die Bybel wat ons gewoonlik moeilik vind of dalk selfs heeltemal vermy.

En ek dink dat daar op dié manier vir jou ’n hele nuwe wêreld kan oopgaan.

Vincent van Gogh, Stillewe met Bybel, 1885. Van Gogh Museum, Amsterdam.

Rede 3 · Suid

Maak die Bybel meer toeganklik

Wat ons graag wil bereik, is om die Bybel meer toeganklik te maak.

Dit sluit nou aan by die vorige argument, naamlik dat ons die Bybel graag groter wil ervaar. Daardie klein Bybeltjie binne die groot Bybel moet groter word.

Maar vir baie mense is die Bybel eintlik ’n ou, ontoeganklike boek.

Hierdie skildery van Van Gogh illustreer dit nogal mooi. Hier sien ons ’n groot Bybel wat oop lê, met ’n kers daarby. Maar die kers het uitgebrand. Dit kan simbolies daarop dui dat die Bybel nie meer lig vir die leser bied nie.

Voor die Bybel lê daar ’n Franse roman met die titel Die vreugde van die lewe, as ons dit in Afrikaans vertaal. En daardie boekie is behoorlik voos gelees!

Die suggestie van die kunstenaar is nogal treffend: Hier lê ’n boek oor die vreugde van die lewe, ’n boek wat gelees word en waarmee mense hulle kan vereenselwig. Maar daaragter lê die groot Bybel, ’n boek wat vir baie mense ontoeganklik geword het.

En dit bring ons by die vraag wat ons met hierdie gespreksreeks wil aanpak: Kan hierdie ou, antieke boek weer só toeganklik word dat dit mense se lewens raak, vir hulle betekenis kry en selfs hulle lewens verander?

Dit is waarom ons in hierdie reeks moeite wil doen met die vraag hoe ons die Bybel lees.

En later gaan ons dit ook prakties illustreer deur saam na spesifieke gedeeltes van die Bybel te kyk.

Rede 4 · Wes

Die Bybel help ons koers hou

Terug by Bybellees. Of liewer, terug by die kompas as ’n beeld van hoe ons die Bybel verstaan.

Ons het almal rigting nodig in ons lewe.

Dit is nie altyd so duidelik wat die regte ding is om te doen nie. En dit werk ook nie so eenvoudig dat ’n mens maar net ’n paar Bybeltekste kan lees en dan presies weet wat die Here wil hê jy moet doen nie.

Maar die breë rigting van ons lewe kan wel duideliker word wanneer ons hierdie kompas, die Bybel, op ’n verantwoordelike en geloofwaardige manier leer gebruik.

En dit is waarheen ek jou graag op reis wil neem. Ek wil jou help ontdek hoe hierdie ou boek, wat deur die eeue vir soveel mense rigting gegee het, ook vir jou ’n kompas kan word.

En dit is werklik iets besonders om te beleef hoe hierdie rigtinggewende boek, deur die werking van die Heilige Gees, ’n betekenisvolle rol in ’n mens se lewe begin speel.

“Ek wil jou help ontdek hoe hierdie ou boek, wat deur die eeue vir soveel mense rigting gegee het, ook vir jou ’n kompas kan word.”

James Kirkpatrick

Vir die groep of vir jouself

Om oor te gesels

Vier vrae, een vir elke rede. Vat een saam na jou groep, of gesels daaroor by die etenstafel.

Neem dit saam

Laai die boekie af om op jou foon te lees of om uit te deel. Die drukweergawe pas op A4 en vou in die middel tot ’n A5-boekie.