Op pad na helderheid

Op pad na helderheid

Ses lesse in kompaslees

Die groter prentjie van ons gesprekke oor Bybelverstaan

blaai af om te begin

Waar ons was

Op pad na helderheid

In die eerste deel van ons pad na helderheid het ons gesels oor waarom ons die Bybel lees en waarom dit so belangrik is om te leer hoe om dit op ’n verantwoordelike manier te lees.

Het jy Deel 1 gemis? Lees dit hier.

Kom ons kyk nou ’n bietjie na die groter prentjie. Ek wil vir jou ’n oorsig gee van wat op hierdie pad vir ons voorlê, sodat jy beter kan verstaan waarheen ons op pad is en wat ons uiteindelik wil bereik.

Die beeld

Die prentjie op die boks

Terwyl ons nou praat oor die groot prentjie van dit waarmee ons hier besig is, help dit my altyd om die beeld van ’n legkaart te gebruik.

Baie gesinne het die gewoonte om veral gedurende die Desembervakansie ’n groot legkaart saam te neem. Dan bou almal deur die loop van die vakansie saam aan die legkaart totdat dit uiteindelik voltooi is.

Twee mense buk oor ’n groot legkaart op ’n tafel
’n Legkaart in die Desembervakansie

Een van die belangrikste hulpmiddels wanneer ’n mens so ’n legkaart bou, is die prentjie op die boks. Dit help jou om die regte stukkies te soek en te bepaal waar elkeen inpas. Sonder daardie prentjie is dit baie moeiliker om die legkaart te voltooi.

Dit is die beeld wat ek hier wil gebruik. Ek wil hê jy moet eers die groot prentjie op die boks sien, sodat jy ’n duidelike idee kan kry van waarmee ons besig is en hoe die verskillende dele bymekaar inpas.

Twee bemoedigende gedagtes

Simple, maar nie stupid nie

Dit kan nogal oorweldigend wees wanneer ’n mens al daardie klein stukkies uit ’n legkaartboks gooi en wonder: Hoe gaan ek dit ooit regkry om hierdie legkaart te voltooi? Hoe gaan ek uiteindelik by die prentjie op die boks uitkom?

Dieselfde geld vir hierdie reeks waarmee ons besig is. Daarom wil ek op hierdie punt twee bemoedigende gedagtes met jou deel.

Dit kom uit Denise Ackermann se boek After the Locusts. Ek gaan die twee Engelse aanhalings hier vir jou gee, sodat jy dit self rustig kan deurlees en ’n bietjie daaroor kan nadink.

Ek dink Ackermann verwoord hierin iets van die rede waarom ons met hierdie nadenke oor ons lewe voor God besig is en waarom ons die Bybel in hierdie proses ernstig opneem.

Die eerste gedagte is dat hierdie soort nadenke die “potential to change people and to deepen faith and understanding” het. Dit kan mense verander, hulle geloof en begrip verdiep en selfs help om wonde te genees.

“I am passionate about theology. I believe in its potential to change people, to deepen faith and understanding, and to heal our wounds. It should not be some inward-looking academic game…”

Denise M. Ackermann, After the Locusts

Die tweede gedagte gaan oor die manier waarop ons ingewikkelde teologiese vraagstukke benader. Ons gaan probeer om “complex theological” sake so eenvoudig en verstaanbaar moontlik te verduidelik. Ons wil dit “simple” maak, maar beslis nie “stupid” nie!

“Taking complex theological doctrines … and attempting to make them simple and straightforward…”

Denise M. Ackermann, After the Locusts

Die groot prentjie

Ses lesse in kompaslees

Hier is dan nou die geheelbeeld, die groter prentjie. Of, om aan te sluit by ons beeld van die kompas, ons sou kon sê: Ses lesse in kompaslees.

Met ander woorde: Hoe gaan ons hierdie reis, hierdie pad na helderheid, aanpak? Hoe gaan ons leer om die Bybel as kompas te gebruik sodat ons groter helderheid en duideliker rigting in ons lewe kan kry?

Ek gaan nou kortliks iets oor elkeen van hierdie ses lesse sê. Ons kan hulle ook beskou as ses mylpale of merkers langs die pad. Daarna kan ons begin om die inhoud van elkeen in meer besonderhede te verken.

  1. Afleer fase 1
  2. Afleer fase 2
  3. Aanleer 1 Verteltekste
  4. Aanleer 2 Gedigte en nog wat
  5. Aanleer 3 Die dekor agter die teks
  6. Aanleer 4 Die leser voor die teks

Jy sal agterkom dat ons nog nie eens by die teks van die Bybel self uitgekom het nie. Dit kom later. Ons is nog besig met die vraag hoe ons die Bybel behoort te lees en te verstaan.

Ons is dus besig met die eerste treë wat ons moet gee om hierdie kompas te leer gebruik, sodat ons koers kan kry.

Twee van die ses lesse handel oor dinge wat ons moet afleer wanneer ons die Bybel lees. Die ander vier gaan oor dinge wat ons moet aanleer om die Bybel op ’n verantwoordelike en geloofwaardige manier te gebruik.

1Les 1 · Afleer 1

Wat die Bybel is en nie is nie

In die wêreld van opleiding en onderrig word die Engelse begrip unlearning dikwels gebruik. Om iets nuuts te kan leer of bemeester, is daar soms dinge wat ’n mens eers moet afleer.

Dieselfde geld wanneer ons oor die Bybel praat. Daar is sekere dinge wat ons eers moet afleer. Oor die jare het ons baie dinge gehoor en is bepaalde opvattings aan ons oorgedra. Ons aanvaar dit dikwels sonder meer as waar, bloot omdat ons dit so geleer het. Maar sommige van hierdie opvattings kan ons gerus afleer.

Ek wil graag ’n storie vertel wat hierdie gedagte mooi illustreer.

Jare gelede het ek muurbal gespeel by ’n klub waarvan die beste speler destyds ook die nommereenspeler in Suid-Afrika was. Op ’n dag het ek die geleentheid gehad om ’n oefenwedstryd teen hom te speel.

Ek was die klub se nommervyfspeler. Jy kan jou dus voorstel hoeveel beter die land se nommereenspeler as ek was!

Ons het ons wedstryd gespeel, en hy was deurgaans ’n besonder bedagsame en vriendelike teenstander. Toe ons klaar was, het hy my bedank vir die wedstryd en in Engels gesê: “James, you will have to change your grip.”

Hy het verduidelik dat die manier waarop ek my raket vashou, verkeerd is en dat hierdie verkeerde greep sekere swakpunte in my spel veroorsaak.

Ek dink dikwels aan hierdie ervaring wanneer ons oor die lees van die Bybel praat.

Baie mense het, net soos ek met muurbal, hulleself geleer hoe om die Bybel te lees. Hulle het mettertyd hulle eie maniere ontwikkel om die Bybel te verstaan en sin daaruit te maak. Maar in die proses het hulle soms ook verkeerde of minder goeie leesgewoontes aangeleer.

En dit is juis hierdie soort gewoontes en opvattings wat ons nou wil afleer.

Die eerste les wat ons gaan behandel, handel daarom oor wat die Bybel nie is nie.

Dit klink dalk na ’n vreemde vertrekpunt. Waarom sou ons begin deur te vra wat die Bybel nié is nie?

Wanneer ons by hierdie les kom, sal jy beter verstaan waarom dit so belangrik is. Voordat ons kan leer om die Bybel op ’n verantwoordelike manier te lees, moet ons soms eers afstand doen van bepaalde opvattings oor wat die Bybel is en hoe dit gebruik behoort te word.

2Les 2 · Afleer 2

Ons ruim nog op

Ons begin deur te praat oor die Bybel as die Woord van God. Wat bedoel ons presies wanneer ons hierdie uitdrukking gebruik? Wat sê ons eintlik wanneer ons die Bybel die Woord van God noem?

Daarna kyk ons na die drie groot tradisies binne die Christendom: die Katolieke, die Ortodokse en die Protestantse tradisies. Ons gaan ook aandag gee aan die verskillende Bybels wat binne hierdie drie tradisies gebruik word.

Die derde tema handel oor die krag van selfmisleiding. Daar is wêreldwyd heelwat navorsing gedoen oor ons vermoë om onsself te mislei. Dit gebeur maklik dat ons die Bybel lees, maar nie werklik hoor wat die teks sê nie. Ons hoor eerder wat ons graag wil hoor. Ons gaan hierdie verskynsel van nader bekyk en vra watter invloed dit op ons verstaan van die Bybel het.

Laastens gaan ons aandag gee aan algemene foute wat mense maak wanneer hulle die Bybel lees. Dit is dikwels foute waarvan ons nie eens bewus is nie, maar wat ’n groot invloed kan hê op die manier waarop ons die Bybel verstaan en gebruik.

Dit is dan die vier temas wat ons in les twee gaan behandel.

3Les 3 · Aanleer 1: Verteltekste

Oor teks(te)

In hierdie les gaan dit oor die lees en verstaan van tekste.

Jy sal sien dat die eerste opskrif lui: “Lees tog net die ding!” Daarmee bedoel ons dat ons tekste behoorlik en noukeurig moet lees. Ons moet aandag gee aan wat werklik daar staan.

Daarna gaan ons praat oor verskillende maniere waarop mense waarheid verstaan. Wat bedoel ons wanneer ons sê dat iets waar is? En hoe beïnvloed ons verstaan van waarheid die manier waarop ons die Bybel lees?

By die derde punt gaan ons ontdek dat daar heelwat verhale in die Bybel is, maar dat hierdie verhale veel meer as bloot stories is. Ons gaan spesifiek kyk na gelykenisse en hoe hulle werk. Jesus het immers dikwels gelykenisse gebruik om sy boodskap oor te dra. Ons gaan daarom ook een of twee van sy gelykenisse van nader bekyk.

Verder gaan ons aandag gee aan twee bekende verhale uit die Ou Testament: die boek Jona en die verhaal van Noag in Genesis 6–9.

4Les 4 · Aanleer 2: Gedigte en nog wat

Oor teks(te), vervolg

In les vier gaan ons ander soorte tekste lees as die verhalende tekste waarmee ons in les drie gewerk het. Ons gaan nou kyk na ’n verskeidenheid tekste wat elkeen op sy eie manier gelees en verstaan moet word.

Ons begin by poësie. Hoe lees en verstaan ’n mens die gedigte wat ons in die Bybel aantref?

Daarna kyk ons na die interessante wêreld van geslagsregisters. Dit is nie bloot droë lyste name wat ons maar kan oorslaan wanneer ons die Bybel lees nie. Daar steek dikwels veel meer in hierdie geslagsregisters as wat ons op die oog af besef.

Ons gaan ook aandag gee aan daardie besondere groep tekste wat as wysheidsliteratuur bekendstaan. Dit sluit boeke soos Prediker, Spreuke en Job in. Ons gaan van hierdie tekste lees en probeer verstaan hoe wysheidsliteratuur werk en watter insigte dit vir ons bied.

Laastens gaan ons ook kyk na ander literêre vorme, soos fabels en legendes.

Die belangrike gedagte in hierdie les is dat verskillende soorte tekste op verskillende maniere gelees moet word. As ons die Bybel verantwoordelik wil verstaan, moet ons leer om die besondere aard van elke teks ernstig op te neem.

5Les 5 · Aanleer 3: Die dekor agter die teks

Konteks 1: die wêreld agter die teks

Wanneer ons by les vyf kom, gaan ons stilstaan by een van die belangrikste beginsels van verantwoordelike Bybellees: Ons moet die Bybel altyd teen sy historiese agtergrond lees en verstaan.

Daarom sal jy sien dat hierdie les handel oor die wêreld agter die teks en die sogenaamde aaklige kloof tussen die wêreld van die Bybel en ons eie wêreld.

Dink byvoorbeeld daaraan dat jy in 2026 leef, terwyl ’n bepaalde Bybelteks moontlik reeds omstreeks 500 v.C. geskryf is. Daar lê dus ongeveer 2 500 jaar tussen jou en die ontstaan van daardie teks. Hierdie groot afstand in tyd maak dit dikwels moeilik om die teks behoorlik te verstaan.

Ons gaan daarom praat oor wat dit beteken om die Bybel histories te lees. Daarmee saam gaan ons aandag gee aan kultuursensitiewe lees: die besef dat die wêreld waarin die Bybel ontstaan het, in baie opsigte radikaal van ons eie wêreld verskil.

Ons gaan ondersoek hoe hierdie verskille ons verstaan van die Bybel beïnvloed en waarom dit so belangrik is om die oorspronklike historiese en kulturele konteks van ’n teks in ag te neem.

Om dit prakties te illustreer, gaan ons onder andere na die boek Prediker kyk en probeer verstaan hoe die wêreld waarin hierdie boek ontstaan het, ons help om die boodskap daarvan beter te begryp.

6Les 6 · Aanleer 4: Die leser voor die teks

Konteks 2: die leser voor die teks

Met die laaste les, les ses, kom ons by ’n aspek van Bybellees waarvan baie mense nie eens bewus is nie: die konteks van die leser.

Tot dusver het ons veral aandag gegee aan die teks self en die historiese wêreld waarin dit ontstaan het. Nou verskuif ons aandag na die wêreld van die leser, oftewel die wêreld voor die teks.

Ons gaan kyk na die invloed wat ons eie lewensomstandighede, ervarings en oortuigings op ons verstaan van die Bybel het.

In hierdie verband gaan ons ook praat oor die versmelting van horisonne: wat gebeur wanneer die wêreld van die Bybel en die wêreld van die hedendaagse leser mekaar ontmoet?

Daarna gaan ons aandag gee aan die lees-, onthou- en kykmodel en ondersoek hoe hierdie model ons kan help om beter te verstaan wat gebeur wanneer ons die Bybel lees.

Laastens gaan ons hierdie insigte prakties illustreer aan die hand van een Bybelteks en ses verskillende preke. Ons gaan kyk hoe dieselfde teks op verskillende maniere verstaan en verkondig kan word, en watter rol die konteks van die leser en die prediker hierin speel.

“Ons is dus besig met die eerste treë wat ons moet gee om hierdie kompas te leer gebruik, sodat ons koers kan kry.”

James Kirkpatrick

Die reeks

Op pad na helderheid

Neem dit saam

Laai die boekie af om op jou foon te lees of om uit te deel. Die drukweergawe pas op A4 en vou in die middel tot ’n A5-boekie.